GEEN MENS ONHEILIG OF ONREIN NIE

Ons lees vanoggend Handelinge 10:34-43. Die metode wat ons gebruik is die BID DIT! metode.

By die eerste lees van die gedeelte besef ek dat mens dalk bietjie meer moet doen as net ‘n gebed skryf om die boodskap van die teks raak te vat. Tydens die 40 Dae in die Woord veldtog het ek by geleentheid ook gesê dat ‘n mens soveel vrae as moontlik vir die teks moet vra. Vrae soos WIE’ WAT; WAAR; WANNEER; WAAROM.

WIE? Petrus is aan die woord. (Vers 34) Kornelius word natuurlik ook genoem. Om te weet wie Kornelius is, moet ‘n mens weier as net hierdie paar verse lees. Volgens 10:1 was hy ‘n kaptein in die Italiaanse regiment. Hulle was godsdienstig en godvresend en hy en sy gesin het baie gedoen om die armes onder die Joodse volk te help en het gereeld tot God gebid. In die huis was Kornelius en sy huisgesin, maar daar was ook baie ander mense. (Vers 27) Petrus self het egter ook ‘n paar Jode uit Joppe wat reeds Christene was met hom saamgebring.

WAT? Dit lyk vir my asof Petrus besig is om mense van Jesus te vertel. Die mense is nie heeltemal onkundig oor Jesus nie. (Vers 36: Julle weet dat God aan Israel sy woord gestuur het, naamlik die evangelie van vrede wat Jesus Christus gebring het.” Ook in vers 37 en 38) Dit lyk egter asof die opstanding en die feit dat die dissipels getuies van die opstanding (ook) is, vir die mense nuut was.

‘n Belangrike deel van die “wat” is vers 34: “Waarlik ek begryp nou eers dat God nie onderskeid maak nie, maar in enige volk die mense aanneem wat Hom vereer en doen wat reg is.” Hierdie vers sluit natuurlik aan by die baie belangrike vers 28: “… maar God het vir my gewys dat ek geen mens as onheilig of onrein mag beskou nie.

WAAR? Die opskrif sê by Kornelius. Petrus is in Kornelius se huis op uitnodiging van Kornelius. Kornelius se huis is in Sesarea. Petrus was in Joppe toe Kornelius hom laat roep het.

WANNEER? Hierdie is natuurlik na die opstanding van Jesus en na Paulus se Damaskuspad ervaring. Drie dae nadat Kornelius eers ‘n besoek van ‘n engel gehad het en Petrus ‘n visioen gehad het.

WAAROM? Kornelius en sy gesin het nog nie van die opstanding gehoor en besef dus nie dat God deur die opstanding bevestig het dat Jesus die Messias was nie. Petrus is hier op uitnodiging van Kornelius, maar Petrus sou nie gekom het as hy self nie ‘n visioen gehad het nie. Die gevolg van die visoen word saamgevat in vers 34: “Waarlik ek begryp nou eers dat God nie onderskeid maak nie, maar in enige volk die mense aanneem wat Hom vereer en doen wat reg is.”

Vir Kornelius en sy gesin en al die ander mense in Kornelius se huis het hierdie ontmoeting die wonderlike gevolg dat God se Gees ook op hulle uitgestort is, (Vers 44) en dat hulle in die Naam van Jesus Christus gedoop is (vers 48). Vir Petrus en sy geselskap het die gebeure ‘n ander impak. Petrus het reeds deur die visoen begin besef dat hy die evangelie verder moet neem as net die Jode. Net weer die twee kritiese verse: Hy sê in vers 28: “… maar God het vir my gewys dat ek geen mens as onheilig of onrein mag beskou nie.” In vers 34 bevestig Petrus dit: “Waarlik ek begryp nou eers dat God nie onderskeid maak nie, maar in enige volk die mense aanneem wat Hom vereer en doen wat reg is.” (Vers 35)

WAT BETEKEN DIT IN DIE PRAKTYK EN WAT GAAN JY DAAROMTRENT DOEN?

Hierdie gebeure laat my dink aan ons omstandighede in Suid-Afrika. Ek dink nie enige regdenkende Christen gaan sê dat mense uit ander volke nie die evangelie mag hoor nie. Maar, ek sien oral rondom my dat die spanning tussen rasse en volke nie minder raak nie en dat Christene soms bydra tot die spanning. Soveel so, dat ons nie altyd weet wanneer iets rassisme is of nie.

Rassisime is vir my om op enige wyse denkbaar neer te sien op mense uit ‘n ander ras of volk. Rassisme is om my eie ras as meerderwaardig te beskou en slimmer as of beter as ander te sien. Rassisme is om te dink iemand anders verdien nie iets nie omdat hy uit ‘n ander ras is. Rassisme is om te dink iemand sal iets nie kan regkry nie, omdat hy/sy uit ‘n ander ras is.

Ek dink nie die Here gaan ooit vir my so ‘n visioen uit die hemel gee as wat Petrus gekry het nie.  Die rede daarvoor is dat Petrus klaar een gekry het en die visioen en die betekenis daarvan opgeteken is vir my om daaruit te leer. Rassisme is iets waarteen ons geslag deurlopend veg. Ons geslag, is van baie kleins af geindokterneer (soms voel ek eerder subtiel gebreinspoel) om te glo dat mense uit ander rasse minderwaardig is. Hulle is dom en lui en skelm en … Intussen het die Heilige Gees ook in my lewe ingekom en ek weet dat dit nie waar is nie en dat geen mens onheilig of onrein is nie. (Handelinge 10:28) Maar die ou mens wat mense uit ander rasse so beoordeel het, steek so dikwels nog sy kop uit.

In hierdie dag sal ek weer aanhou om elke mens met wie ek in aanraking te kom te sien as my gelyke en elke mens te sien as iemand wat na die beeld van God geskep is.

GEBED

Hemelse vader, vanoggend wil ek U aanbid as die Skepper van hemel en aarde. Ek wil U ook aanbid as die Een wat ons as mense na U beeld geskep het. In U besondere kreatiwiteit het U ons nie almal dieselfde gemaak nie. Deur U skeppingswerk is mense nie net anders nie en individueel en uniek nie, maar is groepe mense ook anders, individueel en uniek. Dankie Here Jesus dat U opstanding ook vir my was en nie beperk was tot die Jode nie. Ek besef vanoggend weer dat as dit nie daarvoor was nie, sou ek verlore gewees het en sonder Christus gesterf het. Gee aan my die genade om in elke mens U beeld raak te sien. Bevry my van die negatiewe en vernederende denke oor ander rasse wat soms by my wil opkom.

About these ads

3 Kommentaar

Filed under Die Christelike Lewe

3 responses to “GEEN MENS ONHEILIG OF ONREIN NIE

  1. Gesina Retief

    Attie
    Noudat die 40-dae Veldtog verby is, sien ek heelwat minder kommentaar hier.
    Dit beteken egter nie dat ons nie die stukkies lees en waardeer wat jy elke dag plaas nie. Dit is een e-pos waarna ek elke dag uitsien en stem saam dat die tegnologie ons die afgelope paar dae gepootjie het.
    Jou stukkies bevat elke dag iets waaraan ‘n mens ‘n ruk kan herkou en oordink – soos weer hierdie stukkie van vandag. Baie dankie daarvoor.
    Die afgelope Paasnaweek was weereens besonders en ek wonder hoeveel mense opgemerk het dat die kansel en ook die kruis in die hoek op Goeie Vrydag alles met swart oortrek was. Dit het op my ‘n groot indruk gemaak toe dit my weereens tydens die gebruik van die nagmaal getref het hoe swart daardie dag vir Jesus, sy mense naby aan hom en ook vir sy Vader moes wees.
    Seenwense

    • Hi Gesina, hier is bietjie minder gesprek, maar dit is darem vakansie ens. Iemand het vir my oor simboliek geleer dat mens dit nie hoef te verduidelik nie. SImboliek spreek vanself soos in jou geval.

  2. Christelle van der Walt

    Dit is nogal ‘n teer puntjie wat Ds. hier aangeraak het.

    Ons het Maandagoggend by Moria verby gegaan op pad terug huistoe en ons het ons klaar reggemaak vir die ergste en tog het ek hier ook ‘n les geleer. Hulle ruk in hordes op na ZCC en ons witmense se Kerke is amper leeg.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s