GEDAGTES OOR WONDERWERKE

Mens kan nie die Evangelies lees sonder om die wonderwerke ook te lees nie. In die Washington museum word Thomas Jefferson se Bybel uitgestal. Sy Bybel is ‘n plakboek van die evangelies waar alles in die evangelies ingeplak is, sonder die wonderwerke. Dit is die evangelie volgens Jefferson. Al die leringe van Jesus, maar nie die wonderwerke van Jesus nie.

Die 4 evangelies vertel van ten minste 36 wonderwerke. Volgens Johannes het Jesus sy eerste wonderwerk by ‘n huweliksonthaal gedoen. Hy het water in wyn verander. CS Lewis is van mening dat wonderwerke nie die orde van die skepping omverwerp nie, maar dat God eerder deur die wonderwerke plaaslik en in ‘n korter tyd iets doen wat Hy reeds universeel gedoen het. God het die druiweplant so geskep dat hy water uit die grond sou op suig en deur ‘n proses wat die moontlikhede wat Hy geskep het maksimaal ontging, sou die water uiteindelik wyn word. Lewis is selfs van mening dat Jesus in sy tyd op aarde in ‘n kort tydjie (‘n oomblik) dieselfde wonderwerke gedoen het as wat antibiotika en verskillende ander medikasies vandag oor ‘n langer tydperk doen.

Die meeste van Jesus se wonderwerke was egter genesings. Dikwels het Jesus die persoon wat die wonderwerk beleef het versoek om met niemand daaroor te praat nie. Dalk… omdat geloof wonderke tot gevolg kan hê, maar dit is selde dat wonderwerke geloof tot gevolg het. (Lees gerus daardie sinnetjie nog ‘n keer.)

Die enigste wonderwerk wat in al vier evangelies beskryf word, is die geleentheid waar Jesus ongeveer 5000 mense kos gee (Mense verskil oor die getal wat kos gekry het). Die wonder lê daarin dat Jesus net twee vissies en vyf broodjies gebruik het om die skare mense mee kos te gee. Hierdie baie besondere wonderwerk, wys dalk hoekom Jesus so huiwerig was om enige wonderwerke te doen. Wonderwerke trek skares en baie applous, maar baie selde (indien ooit) blywende lewens verandering of blywende geloof.

Wonderwerke word beskryf as wonders en tekens en nie as wonders en bewyse nie. ‘n Teken is iets anders as ‘n bewys. ‘n Bewys word gebruik in ‘n poging om ander te oortuig dat hulle oor ‘n saak moet dink en voel soos jy oor ‘n saak dink of voel. ‘n Teken is eerder ‘n rigtingaanwyser vir iemand wat reeds in die regte rigting kyk. Wonderwerke versterk geloof, maar slaag nie daarin om te bewys waarom mense behoort te glo nie.

Nie eens in die tyd van Jesus het wonders mense oortuig nie – selfs nie eers die wat in persoon ooggetuies was van Jesus se wonderwerke het noodwendig in Hom geglo nie. Die meeste van die ooggetuies was van die wonderwerke wat Hy gedoen het, het hulle rug op Hom gedraai toe dinge moeilik raak. Fariseërs was getuies, maar die wonderwerke het eerder hulle afkeer in Jesus versterk.

Wonderwerke waarborg niks nie en is nie ‘n versekeringspolis teen. Die skare het weer honger geword en Lasarus vir wie Jesus weer lewendig gemaak het toe hy reeds dood was, het weer dood gegaan. Die dissipels wat wel onder andere as gevolg van die wonderwerkende in Jesus geglo het, sterf almal ‘n marteldood. Maar, dalk is die versekering nie ‘n versekering dat iets negatiefs of sleg of onverklaarbaar met jou gaan gebeur nie, maar die wonderwerke gee aan ‘n mens die versekering dat jy deur geloof in Jesus Christus met die gevolge van dit wat met jou gebeur kan saamleef.

Die wonderwerke het my hierdie besondere geloofsbelydenis geleer: “Ek glo Here, kom my ongeloof te hulp.” Dit is die belydenis van ‘n pa met ‘n duiwel besete seun, wat desperaat opsoek was na uitkoms vir hom en in besonder vir sy seun. Toe genees Jesus daardie seun op grond van daardie pa se geloofsbelydenis.

Johannes die Doper het my geleer om te berus, selfs al sou daar geen wonderwerk met my gebeur nie. Johannes het ‘n boodskapper na Jesus toe gestuur om te vra of Hy die Messias was. Jesus stuur die boodskapper terug om vir Johannes te sê wat hy sien gebeur: Blindes sien, lammes loop, dowes hoor en melaatses word genees. Ten spyte daarvan sterf Johannes ‘n martelaarsdood nie lank na hierdie boodskap hom bereik het nie.

Deur die bonatuurlike krag wat Jesus as die mensgeworde Seun van God gehad het, het Hy wonderwerke gedoen.

Elke wonderwerk herinner my aan die tuin van Eden – hoe God aanvanklik bedoel het alles moet wees.

Die wonderwerke herinner my daaraan dat God met sy liefde in staat is om die bose kringloop van siekte en lyding en swaarkry en onreg te deurbreek.

Elke wonderwerk motiveer my om betrokke te raak en betrokke te wees by aksies en optrede wat die bose kringloop van armoede en honger en lyding en swaarkry en onreg in ons tyd en in ons gemeenskappe omkeer. Met elke honger wat gestil word, nood wat verlig word, onreg wat reggestel word, lyding wat verlig word vestig ons die koninkryk van God hier op aarde en rig ons as mense wat nou in die koninkryk van God leef, tekens op (vir die wat wil sien) van die komende nuwe Jerusalem waar God alles en in almal sal wees.

Ek glo in Jesus Christus, die eniggebore Seun van God. 

About these ads

17 Kommentaar

Filed under Gedagtes oor

17 responses to “GEDAGTES OOR WONDERWERKE

  1. Attie

    Ons praat van wonderwerke is bo natuurlik, is dit bo natuurlik of baie natuurlik, die blote feit dat ons leef en ek vir jou ‘n boodskap stuur in etlike sekondes as ek 8000 km van jou af is ‘n wonderwerk, maar ek dink hoe meer ons na ons natuurlike vorm toe terug beweeg hoe meer gebeur ” wonderwerke” wat ek dink baie natuurlik is, wat dink jy daarvan….

  2. ek wonder...

    Thinus: Ek lees in doom Attie se stuk: “CS Lewis is van mening dat wonderwerke nie die orde van die skepping omverwerp nie, maar dat God eerder deur die wonderwerke plaaslik en in ‘n korter tyd iets doen wat Hy reeds universeel gedoen het.” Ek het ook al baie daaraan gedink, maar ek besef ook dat daardie dinge nie iemand wat nie glo nie sal oortuig om te begin glo nie. Ek dink wonderwerke versterk geloof maar bewerk nie geloof nie.

    ek wonder of dit aansluit by wat jy skryf?

  3. Thinus: Ek dink daar is verskeie dinge wat ons daaglikse gebruik (Soos bv. internet ens.) wat as tekens kan dien vir die wat reeds in die regte rigting kyk, maar soos ek wonder skryf, wonderwerke sal nie iemand wat nie glo nie oortuig om te glo nie. Ek dink eerder dat klein dade wat wys op my allesoorheersende liefde vir God en liefde vir my medemens eerder die dinge is wat iemand wat nie glo nie gaan oortuig en my lewe gaan verander. Ek dink soms ons Christene het nie genoeg geduld om met ons liefdesdade te getuig en dan vir die heilige Gees die geleentheid te gee om geloof in die hart van die “ooggetuie” te bewerk nie.

  4. Ek het pas ‘Man van Cirene’ klaar gelees. ‘n Ongelooflike boek waarvoor ek nou eers in my lewe reg was.

    Ek het die afgelope tyd baie die TV aangehad, en National Geographic het programme gehad waarin hulle die kyker baie subtiel wou wysmaak dat Jesus se Wonderwerke maar opgeblaasde stories is, wat wetenskaplik nie bewys kan word die, en wat in hedendaagse terme onmoontlik is.

    Maar ek kan getuig van Sy Wonderwerke. Die 2de keer in 2 jaar is ek en my gesin platgeslaan. 2 Jaar terug het ons nie gedink dit sou moontlik kon wees om optestaan uit hierdie vernietigende episode nie. maar ons het. deur Sy Genade. En nou is ons weer aangewese op Sy Hand.

    En met gebede van bekendes en onbekendes Sal ons verder leef as nou.

    Groetnis

  5. Attie

    Gestel ek vat iemand van 100 jaar terug en sit hom voor ‘n tv, druk die remote en die tv gaan aan, hy gaan dink die remote is ‘n magic wand, die ding is net, ek glo nie ons weet werklik waartoe ons instaat is nie, en watter effek die geloof kan he nie, ek glo dit het tedoen dat ons nie in ons ” natural state” is nie

    wonderwerke gebeur daagliks, ongelowigs steur hul nie daaraan en soek altyd na ‘n logiese verduideliking, but sometimes truth is stranger than fiction….

    Ek Wonder

    Ek dink so, daar staan geskrywe ” van brood alleen kan ‘n mens nie lewe nie, maar van elke woord wat kom uit die mond van God” ons moet onthou dat God die aarde geskep het deur om net te se, en Christus get wonders verrig deur om net te se, ek weet baie mense besef nie hoeveel skeppingskrag daar is net in wat ons se nie, hoe meer positief hoe meer wonderlik, Doom At, ek skim ons moet mooi gaan kyk wat Christus vir ons se, ek is seker daar is ‘n paar geheime wat verklap word, weereens ons moet terug keer na die natuurlike form…..

  6. Magrietjie

    Attie

    Jy’s reg oor die geduld en die Heilige Gees, ek sal dit onthou.

  7. Skoor: As dit wetenskaplik verklaar kon word, dan was dit nie ‘n wonderwerk nie. Jesus het die onverklaarbare gedoen. Ek dink daar is bitter min gelowiges wat nie van een of ander wondewrwerk sou kon getuig as hulle mooi nadink oor hulle lewens. Ons soek soms op die verkeerde plek.
    Thinus: Ek sou nogal graag wou sien wat Petrus se kommentaar sou gewees het as ons hom in ons tyd neersit. Ek is nogal versigtig vir wat sommige mense veral oor die skeppingskrag van ons woorde dink. Ek kry soms die gevoel dat vir sommige mense die dinge wat ons se selfs die Here aan bande le. Ek dink positiewe kommentaar bv. in die mense rondom ons se lewens het baie waarde. Maar ek dink nie iemand kan iets negatiefs oor my se en dan gaan dit so gebeur nie.
    Magrietjie: Ek sukkel met daardie geduld, ek wou dit gewoonlik gister al gehad het.

  8. Magrietjie

    Skoor

    Partykeer is al die padverkeerstekens onsigbaar in die nag. Jy weet nie hoekom nie, maar meteens weet jy net; nou moet jy baie vinnig briek aanslaan. Om alles te kroon weet jy ook nie wat staan op daai bord wat jy nie kan sien nie; stopstraat, verkeerslig, brug, vallende rotse? Maar iewers in jou binneste weet jy dit is NIE ʼn doodloopstraat nie.

  9. Magrietjie

    Nag ry in digte mis op ʼn bergpas kan lewensgevaarlik wees, veral as die chevrons ook onsigbaar is. Dalk moet mens dan maar eers bietjie aftrek en wag tot die Son weer helder skyn.

  10. Bertus!

    Arthur C. Clarke het die volgende reel geformuleer: “Any sufficiently advanced technology will be indistinguishable from magic” – menende, as jy vir Boesmans in die 16de eeu ‘n TV wys, gaan hulle dit nie kan onderskei van die bonatuurlike nie. Ek vermoed dis seker wat CS Lewis oor wonderwerke wil se^, verstaan ek reg? Dat ‘n Jood uit die eerste eeu geen manier het om te onderskei tussen epilepsie en duiwelbesetenheid nie. In welke geval Lewis die bonatuurlike ontken.

  11. Dis my derde dag van nie rook, dis ‘n wonderwerk!!

  12. Magrietjie: Dis reg, soms moet mens maar ‘n bietjie wag.
    Thinus: Geluk met jou derde dag – byt was. Jy sal nooit spyt wees nie. Ek was daar.
    Bertus: Jy is reg die Jood sou waarskynlik nie tussen epilepsie en duiwelbesetenheid kon onder skei nie, maar “CS Lewis is van mening dat wonderwerke nie die orde van die skepping omverwerp nie, maar dat God eerder deur die wonderwerke plaaslik en in ‘n korter tyd iets doen wat Hy reeds universeel gedoen het.” Die bonatuurlike – in hierdie geval, die mens-geworde Seun van God, gryp in. Scott McKnight sou reken dat elke wonderwerk ‘n rol en ‘n plek in Jesus se agenda gehad het. Elke wonderwerk het die koms van die koninkryk van God ten doel . Dit lyk ni asof daar ruimte was vir lukrake wonderwerke soos vandag se “wonderwerkers” nie.

  13. Etienne

    Hi ds. Wil ds. nie asb. iets sê oor Matt 11:12. Vandat ek dit gelees het bly dit in my kop maal en dit veral na die preek oor die Koningkryk.

  14. wolliem

    Volgens my is die grootste wonderwerke soos volg:
    Wanneer een wat “dood” geword het vir sy geloof en deur my gebede naamlik; besoeke saam met liefdadigheid betoning, verkondiging van die evangelie en aanmoediging, weer “opgestaan” het en die pad van die geloof wandel, dan is dit ‘n wonderwerk.
    Wanneer hulle wat in die geloof groot geword het, uit gewoonte daar is en hulle sien, tog sien hulle nie. Hulle is van “geboorte” af blind en deurdat ons in die breking van “geestelike brood” verkeer (kragsel aksie), kom die verstaanbaarheid en besef waarom dit als gaan en hul blindheid word genees, dan is dit ‘n wonderwerk.
    Hulle wat op die geloofspad seer gekry het en dus nie meer in die gemeente betrokke is nie. Hulle is “kreupel”, en met die nodige toewyding van my kant af, soos hierbo gemeld, word hulle weer aktief betrokke, dan is dit ‘n wonderwerk en so kan ek aangaan.
    Daarom glo ek dat die wonderwerke nog steeds vandag plaasvind.

  15. Zee

    Attie, ek glo in wonderwerke van Bo, en ek weet eendag, miskien net eendag gaan HY hom soos blits slaan en dan sal my kind reg wees, die Here dien en getuig van sy wonderwerk. Ek sien hierdie visie al baie lank in my kop draai en ek weet dis net ‘n kwessie van tyd voor dit gebeur.

  16. wolliem: Dis waar die feit dat ek geestelik dood was en vandag lewe is ‘n wonderwerk; die feit dat ek geestelik blind was en nou kan sien is ‘n wonderwerk; die feit dat ek na my eie seerkry weer kon terugkom en die Here kon dien is ‘n wonderwerk. Of ek enige aandeel het in so ‘n wonderwerk in iemand anders se lewe – dit is nie regtig vir my belangrik om so daaraan te dink nie. Ek wil net doen wat my hand vind om te doen.
    Ek sien ook wonderwerke in honger mense wat kos kry; klein kinders wat kleuterskole kry, want hulle het nie; werkskeppingsprojekte waar mense wat geen inkomste het nie, ten minste ‘n klein inkomstetjie kry. Al die eer aan die Here, met ander woorde, ek hoop die mense praat mooi oor wat die Here deur mense doen as wat enige mens die erkenning of die dank daarvoor sal vat.
    Ek kan ook getuig van wonderwerke van ‘n man wat onverklaarbaar gesond geword het.
    Zee: Mes mag steeds die Here vertrou vir wonderwerke soos in die geval van jou kind. Hy is dieselfde, gister en vandag en tot in ewigheid.

  17. Dirk

    Hoe verklaar julle dit anders as ‘n wonderwerk? Gisteraand waai / seën / bid ek my dogter ‘n voorspoedige reis per motor terug huis toe. “Ry veilig my kind.”, sê ek vir oulaas. Toe ek terugstap in die huis in dink ek aan die tydelikheid en verganklikheid van ons almal.
    Met min verkeer is dit ongeveer 10 minute huis toe. Sy bel my later wel om te bevestig dat sy nou net by die huis ingestap het. Maar sy is baie ontsteld. Sy kon dood gewees het en dit nie eens sien kom het nie. By die Hans Strydomlaan / Delmaspad kruising is daar ‘n bedelaar waarvoor sy moes toegee (wag dat hy oor die straat stap) nadat die verkeerslig reeds vir haar groen geword het. Terwyl sy terughou vir die bedelaar, kom ‘n vragmotor met spoed rooi deur die verkeerslig. Dinge het so vinnig gebeur. Sy sou nie kon uitswaai nie en kon ongelukkig ook nie die vragmotor se nommer afskryf nie. Sy het nie ‘n kans gestaan teen hierdie voortsnellende metaal reus. Sy besef die bedelaar in die pad het haar lewe gered.

    Ek is verwonderd. God het hierdie bedelaar gestuur. Was dit dalk regtig ‘n mens of ‘n engel? Hoe dit ookal sy: ‘Dankie Here, my kind is veilig’

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s